Translate

Donderdag 03 November 2016

Medisyne Tassie

Tassie vir Medisyne

Hierdie idee broei nou al lankal in my kop.  En soos alle goeie idees vat dit partykeer so oor dat jy net glad nie op enige iets anders kan konsentreer todat dit kant en klaar gemaak is nie ;)
Die eindproduk is vir 'n verandering presies soos ek dit in my kop gehad het!


Ek het die oulikste eerstehulp blikkie waarin ek al my medisyne gebere het, maar hy is nie ideaal om saam te neem op vakansies en ander ekspidisies nie, en hy is ook net 'n titseltjie te klein vir medisyne botteltjies.  Die gevolg is dat ek alles in my badkamer-sakkie pak en wanneer ek iets soek, alles uitgepak moet word, omdat dit wat mens soek mos altyd heel onder in gaan le!!


So het hierdie sakkie se planne in my kop begin broei....  Ietsie wat maklik ingepak kan word, wat vir elke ding sy plekkie het en waar ek alles op een slag kan sien.
Nou bly alles sommer in die handige tassie en nooit weer sal ek alles moet uitgrawe as ek die klein vicks potjie soek wat heel onderin gaan le nie :D
Ek het ook besluit om my blikkie te gebruik om 'n ordentlike eerstehulp stel aanmekaar te slaan.  Manlief het 'n basiese eerstehulp sakkie wat in die bakkie bly, so ons is darem voorbereid daarvoor wanneer ons weg is van die huis, ek hoef dit nie in te pak nie.



 Heel voor het ek afgeskorte sakkies gemaak wat die basiese benodighede hou om wonde te versorg.  Pleisters, ontsmettingsmiddel en salf.  Ek het ook my koorspen hier gesit, dis die veiligste plek.




Die handige tassie vou heel oop om maklike toegang te gee tot die medisyne.  Met die deursigtige plastiek kan mens met die eerste oogopslag alles sien wat daarin is.
Jul weet tog mens wil nie sukkel wanneer jy sleg voel nie en jy wil ook nie in die middel van die nag agterkom dat jy die maagpyn medisyne by die huis vergeet het nie!!




Ek het nog 'n ekstra sakkie aan die binnekant van die tassie aangebring, want ek is seker dat daar nog 'n paar goedjies sal bykom waaraan ek nie gedink het nie.


Vir my tassie het ek sommer twee 'D' ringetjies en 'n lint gebruik om dit toe te maak, maar ek sal bietjie kyk wat die winkel het wat beter sal werk.  

Wat alles in my tassie is:

* Koorspen
* Klein rondepunt skertjie
* Ontsmettingsmiddel
* Salf - ons hou van Germolene of Betadine
* Pleisters - 'n verskeidenheid grotes en 'n rolletjie
* Watte/gaas - gaas werk ook goed onder die rolletjie pleister

* Medisyne vir hardlywigheid
* Pynstillers
* Medisyne vir diaree
* Medisyne vir naarheid
* Medisyne vir maagpyn
* Hoesstroop 
* Medisyne vir verkoue
* Vicks smeermiddel
* Natuurlike druppels om die immuunstelsel te versterk
* Medisyne lepel waarop die regte mates afgemeet is (dit moet ek nog kry)

Dit dek darem die meeste olikhede en kan oor die toonbank by 'n apteek verkry word.
Kan julle aan nog iets dink wat ek vergeet het? 

Nota:  Die medisynes in my tassie is maar die brands wat ons gebruik en ek adverteer hul nie.  Al die inligting op die blog is my eie opinie en kan nie die van opgeleide persone vervang nie.

Ek sal graag van die tassies op bestelling maak, met die keuse van basiese kleure.
Prys: R285 + posgeld
(die aanbod is slegs vir die tassie en sluit geen medikasie of enige van die ander los goed in nie)

Groete
RC
xxx 
 

2 opmerkings:

  1. Dis nou oulik verby!!! Lekker netjies, kompak en sigbaar =) Ek hou baie van die plastiek, dis nie net deursigtig om alles maklik te sien nie, dit kan lekker maklik skoongenaak word. Ek het mos die gawe om die salf orals aan te laat kom of om medesyne te mors hehe Dalk kan jy 'n paar oorstokkies ook insit xxxx Lyk vir my na so 'n handige kersgeskenk......

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dink ek sal maar een klaar maak om te verkoop :) ek wil nog ietsie soortgelyk maak om die dogs se travel kit in te sit. Alles is altyd soek wanneer mens moet ry. En die sak wat ek op die oomblik gebruik is te groot en moet altyd diep grawe vir iets. Ek het iewers 'n prentjie gesien waar iemand so oprol stort sakkie daarvoor gebruik, maar ek kan my eie maak :)sal goeie oefening wees om zips in te sit

      Vee uit