Translate

Donderdag 23 Maart 2017

My Seisoene Stilboek - Herfs

Hallo almal!!

Ons vakansie het toe so gerek en gerek dat jul seker al skoon van my vergeet het!!
Maar ek sal die kuiertjie op die plaas tog vir niks verruil nie :)

Aangesien ons nou al aan die einde van Maart-maand staan, en dit die begin van die herfs beteken, het ek besluit om die volgende blad van my Seisoene Stilboek met julle te deel.

Herfs


Hierdie is die blad wat eintlik die hele boek geȉnspireer het :)
 Ek het die oulike idee by handmadebymom gekry.  Google dit gerus, sy het die mooiste stilboeke en inspirasie op haar blog :)


Die blad is vir my so oulik uitgele.
Dit is van 'n boomstomp met 'n deurtjie in waar 'n wollerige maatjie bly.  Daar is kleurvole herfs-blare wat die deur bedek en die blad vou heel oop om die binnekant van die stomp te wys waar die eekhoring sy neute en ander kos vir die winter bere.


Op hierdie blad leer ons bietjie tel.
Daar is 1 groot pampoen,
2 sampioene en 
3 akkers 
wat die japsnoet bymekaarmaak.


 Binne die stomp is daar 'n spesiale plekkie vir elkeen.
Sommer 'n goeie oefening vir vorms en groottes ook.


 Die uniekheid van die stilboeke lȇ altyd vir my in die detail, soos hierdie bessietjies wat onder die blare versteek is.


Op daardie stadium het ek nog moed gehad om hierdie oulike motiefie in die hoek te borduur, maar borduur is nou nie een van my sterk punte of gunsteling tydverdrywe nie!!
Ek oorweeg dit sterk om een van daardie masjientjies aan te skaf waarmee mens jou eie "labels" op 'n lintjie kan druk (soos daardie wat jou ma in jou skoolklere vasgewerk het) sodat ek op daardie manier woorde en frases in my stilboeke kan aanbring ;)
hehe




Ek is seker dat hierdie blad ure se verbeelding-spel sal aanmoedig.


Aan die binnekant van die blad is daar 'n klein blare-bedjie vir ons eekhoring-vriendie om sniesig te slaap wanneer hulle klaar gespeel het :)

Fluit-fluit ons storie is eers uit.

Groete
RC
xxx