Translate

Donderdag 28 Julie 2016

Honde Jassies

Honde Jassies

Ek moes nou eers 'n beker hot chocolate maak om die ergste koue af te weer :) nie dat dit te erg koud is hier in Noord Wes nie, ek dink ons het net die stertjie van die kouefront gevang, maar daar was tog 'n kolletjie ryp onder die boom gister oggend ;) hehe

Hierdie is sommer die perfekte projek vir hierdie weer :) ek wens net die hondjies kon dit dadelik kry om aan te trek, maar hul moet nog bietjie wag tot volgende maand.  Hopelik sal hul dit nog hierdie winter kan gebruik :) 


Die twee jassies bymekaar


Die Rufrug s'n:  XXXL

 Die twee jassies was op bestelling vir 'n rifrug en 'n jackrussel :) (twee baie uiteenlopende groottes, ek het omtrent patrone verstel!!)

Ek dink die bruin materiaal is so stylvol, ek wil sommer 'n baadjie/top daarvan maak, maar dan sal ek net eers weer 'n draai by die materiaalwinkel moet gaan maak :P hehe dit sal so lekker all-side-same-side wees.
en die swart materiaal is so lekker fluffy!!  My 2 worshonde is mal oor hul klere wat van die materiaal is :)

Oja! en Snitz was so oulik om vir ons die kleiner jassie te moddeleer.  Wat dink jul van die kraag? 
Die JackRussel s'n, dit pas nogal mooi vir my Schnitzel
Oulik neh ;)

Ek het nou ongelukkig nie 'n groot genoeg model vir die ander jas, maar sal vra dat hul vir ons foto'tjies neem van hoe hul lyk :)

PS:  Dankie vir my 2 helpertjies, wat altyd reg staan (le) om te help met die patrone en uitknip van die materiaal xx







Dis hoe.......
.......ons rol

Gaan na hierdie post vir my nuutste jassies wat in my Hello Pretty Winkel beskikbaar is.

Maandag 25 Julie 2016

Diere Stilboekie - VERKOOP

Diere Stilboekie - R500 - VERKOOP

Uiteindelik is hierdie stilboekie ook klaar!!  Hy het vir my so oulik uitgekom :)

Die buiteblad is tog te vrolik :)

Die kat en muis
Die hond en haas
Die vis en eend
Die vark en uil
Die slang en wolf
Die tier en leeu
Die haai

Die stilboekie het ek gemaak met die idee dat dit geskik sal wees vir baba's.  Daar is geen los goedjies wat ingesluk kan word nie, maar tog is daar ietsie interessant op elke blad :)

Eerstens is daar 'n kat en 'n muis wat op 'n toutjie kan skuif.

Tweede en derde het ons die hond en haas.  Die hond se groot lap ore kan oplig en die hasie met sy wortel.

Vierde en vyfde het ons 'n vis en dan 'n eend.  Die vis het 'n paar skulpies in die hoek van sy tenk en die eendjie plas in die water, daar is ook 'n paddatjie wat tussen die grassies wegkruip.

Sesde en sewende is die vark en die uil.  Die vark baljaar in die modder terwyl die uil agter die boom se blare wegkruip.

Agtste het ons 'n slang in die gras en negende 'n wolf wat vir die maan huil.

Tiende het ons 'n tier in die oerwoud en elfde 'n leeu met 'n woeste bos maanhare.

Laaste maar nie die minste nie het ons 'n haai met skerp tande wat net onder die branders swem.


Beskrywing:  'n Materiaal stilboek vir baba's.  Daar is 'n verskillende diertjie op elke blad en elkeen se naam is in die hoek geborduur.

Materiaal:  Die boekie is meestal van katoen materiaal aanmekaar gesit.  Die blaaie agter elke diertjie is van verskillende materiale om tekstuur aan die boekie te gee.  Die diertjies en detail is van filt.

Kleur:  Buiteblad - geel met skoenlapper patroon
binne blaaie - groen en verskeidenheid kleure.

Mates:  17x17cm en 4cm dik

PrysR500 + posgeld

 

Donderdag 21 Julie 2016

Gebreide Hasie

Gebreide Hasie - R190

Ek het mos belowe dat ek 'n paar goedjies uit my kaste sal opdiep :) Die hasie het ek nie te lank terug klaar gebrei.  Hy sit en wag al 'n rukkie vir sy plekkie op die blog ;) hehe

Die hasie en sy oorpak

 Die hasie is vir my te prettig met sy beweeglike arms en bene en my nuwe gier om mooi materiaal binne die ore te sit :) ek is ook mal oor sy oorpak wat aan en uit kan trek.

Beskrywing:  Gebreide hasie met franse knoop ogies (veiliger as kraletjies of knope), tossel-stertjie, materiaal binne-ore en gebreide oorpak.

Materiaal:  *100% akriel wol
                    *Stopsel - 100% merino skaapwol (van my 
                      hans ooi af ;)
                    *Ore - katoen materiaal

Kleur:  Tjoklit-bruin hasie met swart ogies en pienk neus en mond.  Binne-ore van blou katoen met fyn wit blommetjie patroon.  Groen, blou en wit gestreepte oorpak.


Mates:  22cm hoog (van voete tot punte van ore)

Gaan na my Hello Pretty Winkel om hierdie hasie te koop.

Die patroon is beskikbaar by www.bysmallmeans.com.  Daar is ongelukkig nie nog sulke oulike speelgoed patrone nie.  Dis so 'n jammerte, want ek is mal oor die patroon!!  Gelukkig het die hasie 'n beertjie maatjie, jul kan hom dalk binnekort hier verwag.  Ek moet net my breipenne weer uitgrawe :)



Die hasie sonder sy klere

Donderdag 14 Julie 2016

Skuinsstrook - tutoriaal

Hoe om skuinsstrook vas te werk

Gister toe ek die eerste SS Spoegdoek gemaak het, volg ek ewe getrou die patroon se aanwysings.  Totdat ek by die deel kom wat verduidelik hoe om die skuinsstrook af te eindig!!  Dis seker die "korrekte" manier, maar dis vrek moeilik!!  Toe doen ek dit maar soos my ma my geleer het ;)


Verskillende skuinsstrook
 Eerstens - net 'n nota oor die skuinsstrook wat ek gebruik het:
Let op die spasietjie tussen die omgevoude randjies by die pienk skuinsstrook (die rooi sirkel).  Dit het gemaak dat die pienk skuinsstrook baie makliker was om te gebruik met die effens dikker projek waarmee ek besig was.  So let hierna wanneer jy skuinsstrook kies vir 'n spesifike projek.  Daardie spasietjie moet rofweg so breed wees as wat jou materiaal (of twee of drie lae materiaal) dik is. 












Vou die punt teen 'n 45grade hoek
steek vas
 Stap 1:
Die begin is sommer ook die basis vir hoe jy die skuinsstrook afeindig.  
*Vou die skuinsstrook heel oop. 
*Vou die punt teen 'n 45grade hoek (sodat die reguit punt gelyk met die rand van die skuinsstrook is)
*Steek die skuinsstrook dan vas sodat die randjie gelyk met die rand van jou materiaal is.

<die foto wys dit darm mooi 




Stap 2:
Steek nou die skuinsstrook reg rondom jou projek vas - sodat die oopgevoude randjie teenaan die rand van jou materiaal is.
Stap 3:
Wanneer jy weer by die begin kom, waar die twee punte bymekkaar kom: 
 *Laat die punt redelik ver verby jou beginpunt steek voordat jy dit teen dieselfde hoek as die begin knip (jy wil nie op die ou ent agterkom dat jy te veel afgeknip het en dat dit dan te kort is nie)
*Maak seker dat jy die skuinsstrook aan albei kante oopgevou het voor jy knip, anders gaan jy met 'n snaakse zigzag punt opeindig.
*Moet nog nie die eindpunt vastteek nie, dan sal dit in die pad wees wanneer jy wil begin stik.
Stap 4:
Begin om jou skuinsstrook vas te stik deur die punt deeglik te heg (vorentoe-agtertoe-en-weer-vorentoe)
Stap 5:
Stik die skuinsstrook reg om jou projek, maak seker dat jy in die voutjie stik.
 Stap 6:
*Wanneer jy by die einde kom - steek die punt bo-oor die begin van jou skuinsstrook vas.
*Stik vas 
*Onthou om stewig af te eindig


Stap 6:
*Draai jou projek om.
*Begin om die skuinsstrook na jou toe om te vou.
*Steek reg rondom vas.
*Moet weer nie die laaste punt oor die beginpunt vassteek nie


Stap 7:
 Stik die skuinsstrook reg rondom vas.
Stap 8:
Wanneer jy by die einde kom, steek die punt vas en stik vas.


 Stap 9:
 So te se klaar!! :)
*As daar dalk 'n stukkie van die onderste skuinsstrook uitsteek, snip dit net af met jou sker!!

 En dis dit!! :)


Omdat ek so gesukkel het met die blou skuinsstrook, was die eindproduk nie heeltemal so netjies soos wat ek sou wou gehad het nie....
 ....daarom het ek vir jul foto's van die pienk skuinsstrook ook bygesit om te wys hoe netjies dit kan wees :)
Mens kan die las skaars sien!!













Ek hoop hierdie foto-les sal darm vir iemand handig tepas kom :)

Groete
RC
xxx







Woensdag 13 Julie 2016

Super Skouer Spoegdoeke - VERKOOP

Super Skouer Spoegdoeke - R150 elk 

Ek noem hierdie die SUPER spoegdoek oor die lekker materiaal aan die agterkant, dit is SUPER absorberend en sal jou klere beslis skoon hou :)

Super Skouer Spoegdoeke
Die "bestandele" vir 'n SSS

Die spoegdoeke is lekker groot en gevorm om gemaklik oor die skouer te pas en maksimum bedekking te voorsien.

Beskrywing:  Groot, gevormde spoegdoek met super absorberende onder laag en lekker sagte bo-kant om baba teen te le. 

Materiaal:  Flennie bo-kant
                Mikrovesel onder laag.

Die super absorberende mikrovesel
Kleur:
Pienk - Wit flennie met gogga en blom patroon.                  Pienk mikrovesel.
             Pienk geblomde skuinsstrook. 
Geel - Wit flennie met hasie patroon.
            Geel mikrovesel.
            Ligblou skuinsstrook.

Mates:  55x40cm

Prys:  R150 elk
          R250 vir stel (2)

Die patroon is beskikbaar by www.sew4home.com.  Hul het baie oulike patrone.  Gaan maak gerus daar 'n draai :) 


Sagte flennie met skuinsstrook

Dinsdag 12 Julie 2016

Fleece Kombers - Blou

Blou Fleece Kombersie

Kyk!!  Die blog-storie is verslawend!!  Ek wil net heeltyd goed maak wat ek kan post!!  Nie dat dit 'n slegte ding is nie, want nou is ek sommer geinspireerd om meer te doen.  Dis mos lekker om iets te kan wys vir jou handewerk :)

Die kombersie is so lekker sag en cuddly, ek het sommer lus om vir ons 'n groot een te maak vir snuggles voor die tv ;) ek is seker hy sal nog 'n paar keer hierdie winter goed gebruik word, want ek dink die koue is nog lank nie verby nie......................  :D

 
Die randjie se detail van naby

 Die randjie maak die hele kombersie, dit laat hom sommer ekstra sag en snoesig lyk.  Net reg om 'n klein lyfie lekker styf toe te wikkel.

Beskrywing:  Sagte fleece kombersie met gevlegde rand detail.

Materiaal:  Polar fleece.

Kleur:  Ligblou met donker en wit hartjies. 


 Mates:  85x85cm

 Groete

RC
xxx