Translate

Dinsdag 31 Januarie 2017

Box Pouch - NIE BESKIKBAAR

Laslappie Box Pouch - R300

Daar is nou net nie 'n mooi Afrikaanse naam vir hierdie een nie, so ons hou maar by die Engelse naam ;)

Ek het julle mos so 'n hele rukkie terug bietjie nuuskierig gemaak met die foto'tjies van die gekwilte lappies....


Dit het bietjie langer gevat as wat ek wou gehad het (want ek kom net nie by my naaldwerk en blog uit nie!!  Ek is so jammer oor hoe ek julle die laaste ruk afgeskeep het)
maar hier dis die eindresultaat nou :)


Wat dink julle?  Hy het nogal heel spoggerig uitgekom :)
maar kom ek vertel vir julle 'n geheimpie.....volgende keer gaan ek beslis eerder aanstryk facing gebruik as die stywe batting, want was dit nou 'n gesukkel om daardie laaste naatjies gestik te kry!!!!
Aan die ander kant maak dit die sakkie lekker stewig.


'n Kant detail'tjie aan die een kant.


Ek is heel in my skik met die laslappie- en kwiltwerk :)


Die binnekant is uitgevoer met blou flennie.
Ek dink dit sal ideaal wees vir 'n grimeer sakkie.


Die sakkie is 20cm lank x 13cm hoog x 12cm breed

Hy sal binnekort op my Hello Pretty Winkel beskikbaar wees.

Groete
RC

Dinsdag 24 Januarie 2017

Materiaal

Sjoe!!  Die nuwejaar is so vol dinge dat ek net nie by my naaldwerk uitkom nie!!
Dalk moet een van my voornemens liewer wees om meer naaldwerk te doen ;) hehe
Ek het darem Skoonsus se stilboek se Winter-blad klaargemaak.  Dink ek moet nou werk maak daarvan om hom klaar te kry, sodat ek dit vir julle kan wys :)

Eerder as om jul droȅbek te laat sit gaan ek vir jul die mooi materiaal wys wat ek die vakansie gekoop het :)
Die winkel was eintlik bietjie uitverkoop en daar was nie so groot verskeidenheid om van te kies nie, ek hoop dat hul binnekort weer aankope sal doen sodat ek my stash  bietjie ordentlik kan aanvul.
Nietemin het ek hierdie 2 pragtage stukkies materiaal uitgesnuffel...


Ek is baie lief vir hierdie katoen, kwilt materiaal en het besluit om te spaar en liewer 'n bietjie meer te betaal vir die goeie kwaliteit.  Daar is altyd die mooiste motiewe en patrone en ek moet altyd 'n paar rolle weer terugsit om by my begroting te hou.




 Hierdie blou is ideaal vir 'n stilboek blad en sal ook al te fraai lyk in die kombuis vir 'n skinkbord lappie of so ietsie.


Hierdie soort neutrale kleure is altyd 'n staatmaker.  Dit is dalk nie die eerste kleur wat mens kies in die winkel nie, maar om een of ander rede is ek baie geneig om dit eerste uit die kas te haal wanneer ek besig raak met 'n projek.  Hierdie motiewe sal baie oulik werk met 'n sakkie of beursie.

Hoop julle het dit geniet.

Waar koop jul graag materiaal?

Groete
RC
 

Dinsdag 17 Januarie 2017

Nuwejaar 2017

Nouja, Kersfees is lankal verby en ek hoop dat julle almal goed uitgerus het hierdie vakansie sodat julle hierdie nuwe jaar by die horings kan pak :)

 Wat doen julle om vir die nuwejaar voor te berei?


Ek het darem al in die oujaar my nuwe dagboek gekoop.

*  Eerstens moet mens al die belangrike datums (moeders- en vadersdag) en verjaarsdae oorskryf (ek het een van daardie spesiale kalendertjies vir die verjaarsdae, so ek skryf dit nie in my dagboek nie)
*  Dan enige belangrike en roetine afsprake soos dokters- en tandaarts afsprake.
 *  Dan die diere se dinge - soos jaarlikse inentings en ontwurming
*  Volgende is die tuin se dinge - kyk in laasjaar se dagboek wat vir jou gewerk het en pas daarby aan (jy het tog sekerlik onthou om te skryf wanneer jy wortels gesaai het en of dit 'n suksesvolle oes was?) note to self: onthou dit hierdie jaar!!!  hehe
* en moenie vergeet om deur jou ou dagboek te blaai en belangrike telefoonnommers en eposadresse wat jy haastig neergepen het oor te skryf nie!!
*  ek maak ook altyd 'n lysie van al die goedjies wat ek graag wil maak en dan skryf ek dit elke maand oor om te sien hoe ek vorder om nie ietsie belangrik soos 'n verjaarsdag geskenkie te vergeet nie.

Wat skryf julle als so aan die begin van die jaar in jul dagboeke?


 Die gevreesde NUWEJAARS VOORNEMENS....

Ag ek is nie juis groot op hierdie lys nie, want mens kan enige tyd begin met 'n paar nuwe voornemens, soos om gesonder te wees en dan moet mens nie wag vir die nuwejaar om daarmee te begin nie!!

Al wat ek in hierdie Januarie-maand nog wil doen is om vir my 'n winkel op Hello Pretty  oop te maak :D ek is heel opgewonde daaroor!!

VOORSPOEDIGE 2017

Groete
RC
xxx  

Saterdag 14 Januarie 2017

Kersfees - 2016

Ja ek weet.  Kersfees is lankal verby, 
maar ons kan die festive feeling mos bietjie oordra tot in die nuwe jaar ;)

Ek wil sommer net vir julle vertel van ons nuwe tradisie'tjie :)

Ons het besluit om elke jaar vir Kersfees 'n inheemse boompie te koop, hom te versier vir kersfees en dan in die nuwejaar uit te plant :D

Op ons soeke na die perfekte boompie koop ons toe op die einde van die dag 3 boompies wat op special was.  Noodeloos om te sȇ dat dit nou nie die 3 mooiste boompies in die kwekery was nie, maar ons het hul so half jammer gekry en ons oor hulle ontferm ;)

So is ons huistoe met ons 2 karee- en een geelhout boompies.
Ek het die sterkste boompie uitgekies, wat toe 'n karee was, en hom versier vir die geleentheid.
Die ander 2 het ons solank met baie liefde gesnoei en in groter sakke geplant sodat hul lekker sterk kan wees wanneer ons hulle wil uitplant.


Ons nederige boompie was omtrent die centre of attention.  Ek dink dit het hom sommer 'n hupstoot gegee ❤

Hoop julle het almal 'n baie geseȅnde kersfees gehad!
Laat daardie welwillendheid julle deur die hele jaar bybly 

Groete
RC
xxx
❤