Translate

Dinsdag 29 November 2016

Rokkie

Ek wil vandag sommer vir jul hierdie pragtage rokkie patroon wys wat ek nog graag wil maak.





Dis vir my soooo mooi en eenvoudig.  Ek is eintlik spyt dat ek nie ook sulke pragtage navy polkadot materiaal kon kry nie, maar as dit suksesvol is maak ek sommer nog een!!

Die patroon is beskikbaar by elleapparelblog.com onder Day Date Dress.
Daar is 'n paar oulike klere tutoriale.


Hier is die materiaal wat ek gekoop het.  Die blou is vir my heel vrolik en ek wil die kant gebruik vir die moutjies of oor die bostuk or oor die romp, kan nog nie besluit nie hehe

Ek het die materiaal al 'n paar maande terug gekoop en nou is dit al amper kersfees!!  Wou hom eintlik al hierdie somer gedra het, maar ek weet nou nie of dit gaan gebeur nie ;)
(dalk inspireer hierdie post my om vandag nog daarmee te begin)

Waar sou julle die kant gebruik?

Groete
RC
xxx 

Sondag 27 November 2016

Doggy Dinge


Hier is sommer net 'n paar foto's van hoe die Dogs die tuin geniet :)




Ons drink lekker water by die voeltjiebak nadat ons gespeel het...



 ...die gras kort obviously 'n sny na die paar lekker reenbuie wat ons gehad het ;)


Dash in sy sandput :)
Dis mos waarvoor worshonde geteel is, en as mens nie vir hul 'n spesiale plekkie gee om te grawe nie, dan dolwe hulle jou hele tuin om hehe
toe slaan pappa sommer vir ons hierdie paar planke aanmekaar en nou het ek my eie plekkie waar ek na hartelus kan grawe.
(kyk net hoe asvaal is die wenkbroue)





Schnitz was nou nie op hierdie dag so lus vir grawe nie, maar hy spring gewoontlik ook in :)

Hoop jul het 'n lekker naweek gehad

Groete
RC
xxx 

Donderdag 24 November 2016

Felt Visse

Felt Visgrate - R20

Ons gaan die naweek bietjie vir vriende van ons kuier en hulle het 2 katte.  Ek hou daarvan om partykeer vir hul ietsie saam te vat :)
toe besluit ek sommer om 'n paar ekstra te maak, dit sal 'n baie bekostigbare kersgeskenkie wees vir jou spesiale kattekind ❤

Ek dink ek sal beslis bietjie kattekruid moet plant en droog, sodat ek volgende keer bietjie daarvan by die stopsel kan insit.


 Dis een seuntjie- en een dogtertjie kat, so toe maak ek vir hul 'n blou- en pienk vis onderskeidelik :)


Beskrywing:  Sagte felt, masjien geborduurde visgrate.

MateriaalFelt, katoen gare en hollow fibre stopsel.


Kleur:  Verskillende kleure beskikbaar, met wit borduur.

Mates:  15cm lank


Gaan na myHello Pretty Winkel om hierdie vissies te koop.

Groete
RC
xxx  

Dinsdag 22 November 2016

Honde Kombersie - Pers polkadots

Pers Polkadot Honde Kombersie

Ietsie vir die honde kinders :)
Sal later nog 'n blou enetjie ook moet maak.


Beskrywing:  Fleece kombersie met komberssteek omgewerk.

Materiaal:  Fleece met akriel wol omgewerk.

Kleur:  Ligte pers met gekleurde polkadots.



Mates:  1x1m



Kyk wie is baie jaloers oor die kombersie en lekkernye wat so uitgepak word hehe  

Groete
RC
xxx 

Vrydag 18 November 2016

Fleece Kombersie met Gehekelde Rand

Baba Kombersie met Gehekelde Rand

Ek is so bly om uiteindelik hierdie kombersie met julle te deel.  Dit was veronderstel om 'n ooievaars-geskenkie te wees vir vriende van ons, maar hulle baba dogtertjie is toe gebore voordat ek die geskenkie by hulle kon kry.  Nietemin hoop ek dat hulle dit nog nuttig sal vind :)

Nodeloos om te se dat ek dit nie op die blog kon sit voordat hulle dit ontvang het nie, anders is die verassing mos heeltemal bederf!!


Ek moet se dat dit meer moeite was om deur die fleece te hekel as wat ek verwag het.  Miskien het ek verkeerde grootte hekelpen gebruik?  Ek sal seker gou genoeg vergeet van die gesukkel en weer probeer ;) hehe

Ek was eers ook nie heel tevrede met die eind resultaat nie.... maar nadat ek dit gewas en geblok het was dit stukke beter en sommer pragtag :)
NOTE TO SELF:  Was en blok gehekelde items voor jy dit kritiseer hehe 




 Ons wens hierdie egpaar alle vreugde en voorspoed toe met hierdie wonderlike geskenkie van bo.  Ons glo dat die Here hulle sal seen en haar elke dag in Sy hand sal hou.

Lekker naweek vir almal!!

Groete
RC
xxx 

Dinsdag 15 November 2016

Blog Labels

Labels vir my Blog :)

Vandag het ek ietsie nuut geleer oor my blog :)

'n Rukkie terug het ek begin om verskeie "afdelings" bo-aan my blog te sit (dit word eintlik "pages" of te wel "blaaie" genoem) om my blad bietjie te orden.  Sodat lesers die verskillende onderwerpe onder die onderskeie hofies kan gaan soek, maar dit het toe glad nie so gewerk nie.

Dis wat toe gebeur het en hoekom:

Mens kan aan elke blad 'n opskrif/naam gee, maar alles wat jy dan op daardie blad skryf is soos een lang post en daar is geen manier om die onderskeie onderwerpe weer maklik te kry nie.  Lesers kan ook net heel onderaan die blad kommentaar lewer en nie by die spesifieke post wat ek bedoel het om te skryf nie.

Toe vind ek uit dat die blaaie eintlik bedoel is vir inligting wat nie gereeld sal verander nie.  Soos mens se kontak besonderhede, aanwysings of so iets.

Gelukkig kom ek toe op hierdie oulike mede blogger se blad af!!!  Dankie tog!!  Jy red my lewe!! :)
blogger-hints-and-tips.blogspot.co.za

Sy verduidelik al die opsies so mooi :)

Ek het toe besluit om die "label gadget" by te sit en dit werk heel eenvoudig!!  Ek het eintlik van die begin af die labels wat jy aan jou post moet heg heel verkeerd verstaan!!  Blondie hier het gedink dit is die woorde wat Google gaan raaksien wanneer iemand iets deur hulle soek.  DUH dis hoekom daar 'n "Search Description" is!!! *bloos*

Nou dat daardie misverstandjie uitgesorteer is....
kan julle nou maklik al die verskillende onderwerpe aan die regterkant van die blad sien onder "AFDELINGS"
Dit lyk nou sommer ook baie netjieser :)

Miskien help hierdie post weer 'n ander blondie op die regte pad hehe

Lekker aand vir julle

Groete
RC
xxx 

 

Saterdag 12 November 2016

Mama Doekies - tutoriaal

Mama Doekies

Vandag se tutoriaal is vir al die mamma's (en nie mammas...) daarbuite
 Dis 'n stap vir stap tutoriaal om jou eie herbruikbare, materiaal doekies te maak vir daardie ongemaklike tyd van die maand (waaroor ons mos nie eintlik praat nie ;)

Ja,ja!!  Voor jul nou begin "eeeuw" en "grossss!" hehe
Dit is seker nie vir almal nie, maar het jy al oot gedink wat word van al daardie weggooi doekies wat jy so gerieflik in die mandjietjie weggooi???  Daar is 'n baie goeie rede hoekom mens dit nie in die toilet kan afspoel nie.  Dit is NIE BIO-AFBREEKBAAR NIE!!!!  En dit beteken dat dit baie, baie, baie jare vat om tot niet te gaan en sorg dat ons oorvol vullishope/asgate behoorlik oorloop.
Nadat ons eenmaal by die asgat was om tuinrommel weg te bring het ek besluit om elke daadwerklike poging aan te wend om my aandeel daarin te probeer verklein.
En maak nie saak hoe klein die veranderinge wat jy in jou lewenstyl maak is nie, in die langeduur sal dit tog 'n groot verskil maak, veral as ek 'n paar mense oor kan bring na die 'dark side' toe ;)
Die versorging van ons planeet is elkeen van ons se verantwoordelikheid en hierdie is net 'n klein maniertjie waarop ons girls so stil-stil 'n verskil kan maak.

En raai wat!!  Hulle is op die koop toe nog baie gemakliker as weggooi doekies ook!!! :)
Ek is sommer vies as ons iewers heen gaan en ek weer weggooi doekies moet inpak.
(Ja, ek hou nog altyd 'n spaar pakkie in my tassie.  Ek is nou nog nie heeltemal gemaklik om my goedjies by ander mense se huis op die wasgoeddraad te hang nie!!!  Elke ding het ook sy plek en ek is seker dat Moeder Natuur my daarvoor sal vergewe :P hehe)

Nouja, hier volg die patroon.
Hoop dit inspireer 'n paar mense om dit tenminste net te probeer.
Daar is tog niks om te verloor nie :)


Hier is 'n stelletjie wat ek klaar gemaak het.  Een grote vir die aand (en ook daardie erger dae) en twee kleintjies.
  
BENODIGHEDE:
* Flennie lap - dis lekker sag vir die buitekant
* Mikrovesel- of handoekstof materiaal - wat lekker absorberend is
*  Waterdigte materiaal - soos die wat hul gebruik om matras oortreksels vir baba's te maak
* Aandruk knippies of klitsgras
* Gare
* Sker
* Zig-zag sker
* Patroon - ek het sommer 'n weggooidoekie, wat lekker pas, afgetrek vir myne
* Lineaaltjie
* Materiaal pen/potlood

SO MAAK JY:


1.  Trek die patroon af van 'n weggooi doekie.
Sny 'n absorbeer-strokie wat effens kleiner is as jou doekie met die vlerkies aan.


 2. Met jou absorbeer-strokie patroon:  Sny een elk van die mikrovesel/handoekstof en waterdigte materiaal uit.




3.  Steek die twee lae aanmekaar vas sodat die wollerige kant van die waterdigte materiaal teen die mikrovesel is.
 Sit dit dan eenkant.


4. Steek nou die patroon met die vlerkies aan die VERKEERDE KANT van jou flennie vas.


5.  Trek die patroon af op die materiaal.
Dit maak dit net vir my soveel makliker wanneer ek dit moet vasstik.





6.  Meet nou die naattoelating en knip dan op hierdie lyn.
Ek knip altyd sommer so op die stippelyntjies.


 7.  Sit nou die uitgeknipte patroon, REGTE KANTE OP MEKAAR, steek vas en knip dan uit.






Al die uitgeknipte dele: 2x flennie, 1x mikrovesel/handoekstof en 1x waterdigte materiaal



 8.  Haal die twee stukkies flennie van mekaar af.  Jy gaan nou met die een werk waarop jy die patroon afgetrek het, sit die ander stukkie eenkant.


Steek nou die absorbeer-strokie, met die mikrovesel kant, aan die flennie vas en stik dit dan.


 Daarsy, sover so goed. So lyk dit nou.
Die lagies skuif so 'n biejie wanneer jy dit stik en ek hou daarvan om die randjies dan netjies te knip.



9.  Sit nou die flennie REGTE KANTE OP MEKAAR en steek dit dan vas.


10.  Stik nou die twee pante aanmekaar.  Onthou om 'n opening te los om jou doekie uit te dop.
Ek het nou al elke moontlike reguit naat oopgelos, maar dit bly maar 'n gesukkel om die dik absorbeer-strook uit te dop, die flennie rafel maar maklik uit.
So ek los die een vlerkie se hele punt oop soos op die foto.

 11.  Nou moet al die rondings en hoekies geknip word sodat dit netjies sal uitdop..


Wat 'n aaklige werk!!


Maar ek het 'n secret weapon!!! mwhahahaha


Ek is nie 'n voorstaander daarvan om die naat af te knip nie, maar as jy 'n hele hoop van hierdie outjies het om te doen is dit nogal 'n storie om al daardie happies met 'n gewone sker te knip sonder om die gare af te sny!!  Die zig-zag sker doen dit sommer in 'n japtrap!
 

So lyk dit nadat jy al die rondings geknip het.



12.  Dop die doekie nou versigtig uit.


13.  Hierdie stappie is so bietjie fiddly, maar met bietjie geduld kan enige iets vermag word ;)
Knip die hoekies (gebruik die patroon wat jy afgetrek het as 'n gids), vou die punte in en siedaar!!

 14.  Stik nou reg rondom die randjie,  hierdie stap rond enige projekkie altyd mooi af :)




15.  Nou net vir die klitsgras.
Draai die doekie om, sodat die binnekant(waaraan die absorbeerstrokie vasgestik is) onder is.
Vou die vlerkies toe om te sien aan watter kant jy die klitsgras moet vassit.
Daardie aandruk knippies werk ook baie lekker!  Ek moet net onthou om vir my 'n paar te koop :)


En siedaar!!  Een baie sagte, gemaklike, omgewingsvriendelike mama doekie!!
In 'n japtrap!! :) 

Oja!  En hul is eintlik heel maklik om te versorg ook.  Spoel elke keer na gebruik goed uit en vryf sommer met 'n koekie seep, laat goed in die son droog word.  Wanneer die week om is gooi ek almal in die wasmasjien en hang hul lekker lank in die son voor ek hul weg bere vir volgende maand.
So maklik soos dit :)

Hoop iemand sien kans om saam met my op die wa te klim.
Ons red die aarde, een maand op 'n slag!!
 hiehie

Groete
RC
xxx 

Donderdag 10 November 2016

Skinkbord Lappies

Skinkbord Lappies

Ek het hierdie twee lappies op bestelling gemaak.  Hulle is nogal heel fraai :)



Die materiaal komplimenteer mekaar mooi en dit is double sided so altwee kante kan gebruik word.






Die kant om die randjie maak dit mooi sag.




Hmmm..... nou  is ek sommer lus vir 'n lekker cappuchino :P
hehe

Groete
RC
xxx