Translate

Saterdag 12 November 2016

Mama Doekies - tutoriaal

Mama Doekies

Vandag se tutoriaal is vir al die mamma's (en nie mammas...) daarbuite
 Dis 'n stap vir stap tutoriaal om jou eie herbruikbare, materiaal doekies te maak vir daardie ongemaklike tyd van die maand (waaroor ons mos nie eintlik praat nie ;)

Ja,ja!!  Voor jul nou begin "eeeuw" en "grossss!" hehe
Dit is seker nie vir almal nie, maar het jy al oot gedink wat word van al daardie weggooi doekies wat jy so gerieflik in die mandjietjie weggooi???  Daar is 'n baie goeie rede hoekom mens dit nie in die toilet kan afspoel nie.  Dit is NIE BIO-AFBREEKBAAR NIE!!!!  En dit beteken dat dit baie, baie, baie jare vat om tot niet te gaan en sorg dat ons oorvol vullishope/asgate behoorlik oorloop.
Nadat ons eenmaal by die asgat was om tuinrommel weg te bring het ek besluit om elke daadwerklike poging aan te wend om my aandeel daarin te probeer verklein.
En maak nie saak hoe klein die veranderinge wat jy in jou lewenstyl maak is nie, in die langeduur sal dit tog 'n groot verskil maak, veral as ek 'n paar mense oor kan bring na die 'dark side' toe ;)
Die versorging van ons planeet is elkeen van ons se verantwoordelikheid en hierdie is net 'n klein maniertjie waarop ons girls so stil-stil 'n verskil kan maak.

En raai wat!!  Hulle is op die koop toe nog baie gemakliker as weggooi doekies ook!!! :)
Ek is sommer vies as ons iewers heen gaan en ek weer weggooi doekies moet inpak.
(Ja, ek hou nog altyd 'n spaar pakkie in my tassie.  Ek is nou nog nie heeltemal gemaklik om my goedjies by ander mense se huis op die wasgoeddraad te hang nie!!!  Elke ding het ook sy plek en ek is seker dat Moeder Natuur my daarvoor sal vergewe :P hehe)

Nouja, hier volg die patroon.
Hoop dit inspireer 'n paar mense om dit tenminste net te probeer.
Daar is tog niks om te verloor nie :)


Hier is 'n stelletjie wat ek klaar gemaak het.  Een grote vir die aand (en ook daardie erger dae) en twee kleintjies.
  
BENODIGHEDE:
* Flennie lap - dis lekker sag vir die buitekant
* Mikrovesel- of handoekstof materiaal - wat lekker absorberend is
*  Waterdigte materiaal - soos die wat hul gebruik om matras oortreksels vir baba's te maak
* Aandruk knippies of klitsgras
* Gare
* Sker
* Zig-zag sker
* Patroon - ek het sommer 'n weggooidoekie, wat lekker pas, afgetrek vir myne
* Lineaaltjie
* Materiaal pen/potlood

SO MAAK JY:


1.  Trek die patroon af van 'n weggooi doekie.
Sny 'n absorbeer-strokie wat effens kleiner is as jou doekie met die vlerkies aan.


 2. Met jou absorbeer-strokie patroon:  Sny een elk van die mikrovesel/handoekstof en waterdigte materiaal uit.




3.  Steek die twee lae aanmekaar vas sodat die wollerige kant van die waterdigte materiaal teen die mikrovesel is.
 Sit dit dan eenkant.


4. Steek nou die patroon met die vlerkies aan die VERKEERDE KANT van jou flennie vas.


5.  Trek die patroon af op die materiaal.
Dit maak dit net vir my soveel makliker wanneer ek dit moet vasstik.





6.  Meet nou die naattoelating en knip dan op hierdie lyn.
Ek knip altyd sommer so op die stippelyntjies.


 7.  Sit nou die uitgeknipte patroon, REGTE KANTE OP MEKAAR, steek vas en knip dan uit.






Al die uitgeknipte dele: 2x flennie, 1x mikrovesel/handoekstof en 1x waterdigte materiaal



 8.  Haal die twee stukkies flennie van mekaar af.  Jy gaan nou met die een werk waarop jy die patroon afgetrek het, sit die ander stukkie eenkant.


Steek nou die absorbeer-strokie, met die mikrovesel kant, aan die flennie vas en stik dit dan.


 Daarsy, sover so goed. So lyk dit nou.
Die lagies skuif so 'n biejie wanneer jy dit stik en ek hou daarvan om die randjies dan netjies te knip.



9.  Sit nou die flennie REGTE KANTE OP MEKAAR en steek dit dan vas.


10.  Stik nou die twee pante aanmekaar.  Onthou om 'n opening te los om jou doekie uit te dop.
Ek het nou al elke moontlike reguit naat oopgelos, maar dit bly maar 'n gesukkel om die dik absorbeer-strook uit te dop, die flennie rafel maar maklik uit.
So ek los die een vlerkie se hele punt oop soos op die foto.

 11.  Nou moet al die rondings en hoekies geknip word sodat dit netjies sal uitdop..


Wat 'n aaklige werk!!


Maar ek het 'n secret weapon!!! mwhahahaha


Ek is nie 'n voorstaander daarvan om die naat af te knip nie, maar as jy 'n hele hoop van hierdie outjies het om te doen is dit nogal 'n storie om al daardie happies met 'n gewone sker te knip sonder om die gare af te sny!!  Die zig-zag sker doen dit sommer in 'n japtrap!
 

So lyk dit nadat jy al die rondings geknip het.



12.  Dop die doekie nou versigtig uit.


13.  Hierdie stappie is so bietjie fiddly, maar met bietjie geduld kan enige iets vermag word ;)
Knip die hoekies (gebruik die patroon wat jy afgetrek het as 'n gids), vou die punte in en siedaar!!

 14.  Stik nou reg rondom die randjie,  hierdie stap rond enige projekkie altyd mooi af :)




15.  Nou net vir die klitsgras.
Draai die doekie om, sodat die binnekant(waaraan die absorbeerstrokie vasgestik is) onder is.
Vou die vlerkies toe om te sien aan watter kant jy die klitsgras moet vassit.
Daardie aandruk knippies werk ook baie lekker!  Ek moet net onthou om vir my 'n paar te koop :)


En siedaar!!  Een baie sagte, gemaklike, omgewingsvriendelike mama doekie!!
In 'n japtrap!! :) 

Oja!  En hul is eintlik heel maklik om te versorg ook.  Spoel elke keer na gebruik goed uit en vryf sommer met 'n koekie seep, laat goed in die son droog word.  Wanneer die week om is gooi ek almal in die wasmasjien en hang hul lekker lank in die son voor ek hul weg bere vir volgende maand.
So maklik soos dit :)

Hoop iemand sien kans om saam met my op die wa te klim.
Ons red die aarde, een maand op 'n slag!!
 hiehie

Groete
RC
xxx 

4 opmerkings:

  1. Fantasties!!! Dis baaie beter vir almal en die natuur. Baie beter as daai geritsel terwyl jy loop....... En ook baie beter as dit wat ons moes gebruik voor die ritsellende doekies hehe xx

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Daarsy!!! Daar kom die waarheid nou uit!! hehe
      Ek dink ek sal 'n stelletjie maak om te verkoop, sodat iemand wat braaf genoeg is dit ook kan probeer :)

      Vee uit
  2. Hi wil graag weet waar jy jou flennie lap koop asb

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Hi!
      Daardie spesifieke lap het ek by Essops in Klerksdorp gekoop.
      Deesdae bly ons naby PE en ek koop graag by MGE of Mayfair.
      Ek het nog nie self oor die internet bestel nie, maar ek dink mens sal by Takealot kan kry.
      Hoop dit help
      Groete 😊

      Vee uit