Translate

Dinsdag 13 Desember 2016

Wenk om Reguit Lyne te Kwilt

Ek het hierdie oulike wenk iewers op die internet raakgeloop en toe besluit ek om 'n kort tutoriaal daaroor te skryf :)


Al ooit gewens dat jy al daardie kwilt lyne mooi reguit (wel meestal reguit) kan stik met jou gewone masjien, sonder dat jy klomp strepe op jou materiaal hoef te trek??

Jy sou nooit kon raai dat dit so eenvouding is nie!!
MASKEERBAND!


Al wat jy nodig het is:
* jou materiaal en batting en bypassende of kontrasterende gare
* 'n liniaal
* materiaal pen of potlood
* maskeerband in die breedte van jou keuse (myne is 2cm breed)
* en jou naaldwerkmasjien 

Hier is wat jy doen:

Ek het besluit op diagonale lyne vir hierdie projek, maar die tegniek sal ewe goed werk as jy dit wil gebruik om loodregte lyne, blokkies of diamante te kwilt.

1.  Merk dieselfde afstand van jou hoekie af op die horisontale- en die vertikale sye.
Ek het 2.5cm van die hoek af gemeet, dis net 'n bietjie breer as my maskeerband.


 2.  Plak die maskeerband tussen jou twee merkies sodat dit 'n 45° hoek vorm.






3.  Stik weerskante van die maskeerband.

 4.  Skuif nou die maskeerband sodat die een kant teenaan jou laaste gestikte lyn is.  Stik nou weer 'n lyn teen die maskeerband.




5.  Herhaal stap 4 totdat jou hele lappie gestik is.  Jy sal in die middel 'n langer stuk maskeerband gebruik omdat die afstand van jou diagonale lyne langer sal wees.

EN SIEDAAR!!
'n Gekwilte lappie sonder om ewe veel tyd te spandeer om die lyne uit te meet.


Hier is die manikuur sakkie wat ek met die gekwilte lappie gemaak het :)

WENKE VIR NETJIESE KWILTWERK:
* Kry sommer 'n paar rolletjies maskeerband van verskillende breedtes om by verskillende projekte aan te pas.
* Spelde, spelde en nog spelde!!!  Gebruik baie spelde om te verseker dat jou lae materiaal nie skuif nie.
* Stik altyd in dieselfde rigting om te verhoed dat die lae oneweredig skuif.

Laat weet as julle nog 'n paar oulike wenke vir kwilters het.  Ek is maar net 'n beginner en ek leer nog elke dag uit my eie voute :)

Groete
RC
xxx 

1 opmerking:

  1. En kyk hoe leer jy my op my gevorderde ouderdom 'n nuwe truuk!!! Dis nou 'n baie handige tutorial =) Ek wil mos altyd 'n diamandvorm kwilt en dan is my diamante nooit almal ewe groot nie, maar op hierdie manier gaan hul perfek wees =) xxx Daai sakkie is darem baie mooi, ek hou van sulke tipe Kersgeskenke........ hehehe

    AntwoordVee uit