Translate

Dinsdag 07 November 2017

Basiese Naaldwerk Reeks - Les #4

Hoe om jou Naaldwerk Masjien te Olie

 *Hierdie post bevat affiliated links


Vandag gaan ek julle wys hoe om jou masjien te olie.
Dis nogal 'n groot storie en moet so elke twee tot drie maande goedoen word as jy jou masjien baie gebruik, 'n bietjie minder as jy nie gereeld naaldwerk doen nie.
Jy kan dalk verkies om jou masjien na 'n werktuigkundige te neem om te laat olie en na te gaan.
Ek spaar maar 'n paar Rand deur dit self te doen ;)

Laat ons sommer wegspring!

Wat jy nodig het:

 1.  Skroewedraaiers* van verskillende groottes.  My masjien het skroewe van alle groottes en vorms, ek oorweeg dit om 'n hele stelletjie te koop, want ek sukkel steeds met van die skroewe.
Van daardie magnetiese* soort sal ook baie handig wees, want meeste van my masjien se skroewe is ingesink en dan is dit moeilik om weer in die gaatjie te kry!
2.  Masjien Olie* - die deurskynende soort is die beste, die geel soort kan geneig wees om later taai te raak en aan te pak.
 3.  Lappie/sneusie - ek vee sommer al die stoffies en ou olie spatsels af soos ek gaan.
4.  Ou handoek - Om die masjien op te lê wanneer jy aan die onderkant werk.
Klein houertjie/piering - om skroefies en partjies in te sit, sodat dit nie verloor nie.

Baie belangrik!  Voor jy begin om aan die masjien te werk moet jy die kragprop uittrek!!

Maak ook seker dat die naald in sy hoogste posisie is.
 

1.  Begin deur die shuttle race 
  
en die shuttle haak te olie.
Gaan na laasweek se Les #3 - hoe om masjien skoon te maak, 
om te sien hoe om die shuttle dele uit te haal. 
 2.  Skroef die naaldplaatjie af en olie die ratjie daaronder.
Stof sommer bietjie af ook.
Skroef dan die naaldplaatjie terug.
3.  Maak nou al die skroefies los om die boonste dele van jou masjien oop te maak.
My masjien het skroewe aan die bo-kant, agterkant en aan weerskante en slegs die linkerkant (waar gloeilamp is) en agterkant kan afhaal.
 Sit al die skroefies en los partjies in jou houertjie/piering.
4.  Maak die omhulsel aan die linkerkant oop deur dit versigtig uitwaarts en opwaarts te beweeg.
Dis maar partykeer moeilik, want daar is klein plastiek hakkies wat die dele op hulle plek hou.  Pasop dat jy hulle nie afbreek nie!!
 Maak seker dat die drukvoetjie se armpie opgelig is voor jy die agterste dop afhaal.
Kyk die oulike gaatjie wat daar vir hom is om deur te pas! ツ

 5.  Haal die agterste dop ook versigtig af, let op enige dele wat deur die plastiek pas, soos die kragprop en drukvoet armpie op my masjien.
6.  Nou kan jy net die gemerkte dele olie.
Die dele wat op jou masjien geolie moet word kan dalk van myne verskil.
Jou masjien se boekie behoort aan te dui watter punte geolie moet word.
Jy kan ook die handwiel draai om te sien watter dele beweeg, alle bewegende dele waar wrywing voorkom moet geolie word.



7.  Sit nou weer die dele in die teenoorgestelde volgorde terug en skroef stewig vas.

Maak nou weer seker dat die drukvoet armpie af gedruk is, sodat hy gelyk met die agterkant is wanneer jy die masjien neerlê om aan die onderkant te werk.
 8.  Vou die handoek op jou werkoppervlak oop en lê die masjien op sy rugkant neer.
Ek haal ook die verlengingstafel af.
 9.  Maak al die skroefies aan die onderkant los en sit hulle eenkant in jou houertjie.
 Al die onderste panele verwyder.
 10.  Olie weer al die aangeduide punte.

11.  Skroef al die onderste panele weer vas.
 Dis hoe 'n mens jou masjien in tip-top kondisie hou.
Jy behoort sommer te voel dat hy nou gladder loop as voor jy begin het ツ

Onthou om 'n ou stukkie materiaal te stik nadat jy jou masjien geolie het, want van die oortollige olie kan die materiaal vlek.
Volgende week kyk ons hoe om die regte naald te kies vir jou projek.
Sien julle dan!
Groete
RC

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking