Translate

Donderdag 10 November 2016

Skinkbord Lappies

Skinkbord Lappies

Ek het hierdie twee lappies op bestelling gemaak.  Hulle is nogal heel fraai :)



Die materiaal komplimenteer mekaar mooi en dit is double sided so altwee kante kan gebruik word.






Die kant om die randjie maak dit mooi sag.




Hmmm..... nou  is ek sommer lus vir 'n lekker cappuchino :P
hehe

Groete
RC
xxx 

Dinsdag 08 November 2016

African Flower Seekoei - bont & room

bont & room African Flower Seekoei - R700

Ek is altyd so opgewonde wanneer ek een van hierdie outjies klaar gehekel het :)
Hulle lyk altyd so vrolik en hulle is net reg om vas te druk!


Beskrywing:  Groot, gehekelde seekoei pop.


Materiaal:  Gehekel met 100% akriel gare.
Gestop met hollowfibre stopsel.
2 hout krale vir oe.



Kleur:  Bont african flower motief met room.


Mates:  27cm hoog x 60cm lank


Gaan na my Hello Pretty Winkel om hierdie seekoei te koop

Die patroon is beskikbaar by heidibearscreative.blogspot.com.  Sy is 'n ongelooflike talentvolle ontwerper en ek dink haar patrone bring baie vreugde reg oor die wereld :) 

Dink bietjie aan 'n naam vir ons nuwe seekoei vriendjie :)
dan laat weet jul my...

Groete
RC
xxx 

Donderdag 03 November 2016

Medisyne Tassie

Tassie vir Medisyne

Hierdie idee broei nou al lankal in my kop.  En soos alle goeie idees vat dit partykeer so oor dat jy net glad nie op enige iets anders kan konsentreer todat dit kant en klaar gemaak is nie ;)
Die eindproduk is vir 'n verandering presies soos ek dit in my kop gehad het!


Ek het die oulikste eerstehulp blikkie waarin ek al my medisyne gebere het, maar hy is nie ideaal om saam te neem op vakansies en ander ekspidisies nie, en hy is ook net 'n titseltjie te klein vir medisyne botteltjies.  Die gevolg is dat ek alles in my badkamer-sakkie pak en wanneer ek iets soek, alles uitgepak moet word, omdat dit wat mens soek mos altyd heel onder in gaan le!!


So het hierdie sakkie se planne in my kop begin broei....  Ietsie wat maklik ingepak kan word, wat vir elke ding sy plekkie het en waar ek alles op een slag kan sien.
Nou bly alles sommer in die handige tassie en nooit weer sal ek alles moet uitgrawe as ek die klein vicks potjie soek wat heel onderin gaan le nie :D
Ek het ook besluit om my blikkie te gebruik om 'n ordentlike eerstehulp stel aanmekaar te slaan.  Manlief het 'n basiese eerstehulp sakkie wat in die bakkie bly, so ons is darem voorbereid daarvoor wanneer ons weg is van die huis, ek hoef dit nie in te pak nie.



 Heel voor het ek afgeskorte sakkies gemaak wat die basiese benodighede hou om wonde te versorg.  Pleisters, ontsmettingsmiddel en salf.  Ek het ook my koorspen hier gesit, dis die veiligste plek.




Die handige tassie vou heel oop om maklike toegang te gee tot die medisyne.  Met die deursigtige plastiek kan mens met die eerste oogopslag alles sien wat daarin is.
Jul weet tog mens wil nie sukkel wanneer jy sleg voel nie en jy wil ook nie in die middel van die nag agterkom dat jy die maagpyn medisyne by die huis vergeet het nie!!




Ek het nog 'n ekstra sakkie aan die binnekant van die tassie aangebring, want ek is seker dat daar nog 'n paar goedjies sal bykom waaraan ek nie gedink het nie.


Vir my tassie het ek sommer twee 'D' ringetjies en 'n lint gebruik om dit toe te maak, maar ek sal bietjie kyk wat die winkel het wat beter sal werk.  

Wat alles in my tassie is:

* Koorspen
* Klein rondepunt skertjie
* Ontsmettingsmiddel
* Salf - ons hou van Germolene of Betadine
* Pleisters - 'n verskeidenheid grotes en 'n rolletjie
* Watte/gaas - gaas werk ook goed onder die rolletjie pleister

* Medisyne vir hardlywigheid
* Pynstillers
* Medisyne vir diaree
* Medisyne vir naarheid
* Medisyne vir maagpyn
* Hoesstroop 
* Medisyne vir verkoue
* Vicks smeermiddel
* Natuurlike druppels om die immuunstelsel te versterk
* Medisyne lepel waarop die regte mates afgemeet is (dit moet ek nog kry)

Dit dek darem die meeste olikhede en kan oor die toonbank by 'n apteek verkry word.
Kan julle aan nog iets dink wat ek vergeet het? 

Nota:  Die medisynes in my tassie is maar die brands wat ons gebruik en ek adverteer hul nie.  Al die inligting op die blog is my eie opinie en kan nie die van opgeleide persone vervang nie.

Ek sal graag van die tassies op bestelling maak, met die keuse van basiese kleure.
Prys: R285 + posgeld
(die aanbod is slegs vir die tassie en sluit geen medikasie of enige van die ander los goed in nie)

Groete
RC
xxx 
 

Woensdag 02 November 2016

Besigheidskaartjies

My Besigheidskaartjies

Ek wou gister sommer gou hierdie kort post geskryf het, maar toe is al my kamera se batterye so ontydig pap!!  Liewer laat as nooit!! :)



Ek het hierdie kaartjies sommer met my beperkte rekenaar vaardighede op "Word" ontwerp.  (ek sal maar nie se hoe lank dit gevat het nie hehehe)
Ek soek nou nog net mooi karton om dit op te druk en dan is dit perfek!!  :)
Dis net nie altyd so maklik om die regte karton vir die werk te kry nie.  Het jul dit ook al ondervind?  Hoe beter die prentjie in jou kop van iets is, hoe moeiliker kry jy dit in die winkel?!?!!  Dis altyd die geval met my!! 


Dis ook nou die geval vir die verpakking vir my handgemaakte goedjies.  Het 'n idee in my kop, maar om dit nou iewers te kry....
Op die oomblik bere ek alles in plastiek sakkies om dit skoon te hou in die kas en wanneer dit vervoer word, maar dit sal nooit deug vir die lange duur nie.
 Hulle se dat die verpakking die eerste indruk is wat mense van jou produk kry, so dit moet ietsie besonders wees.
Ek dink ek moet later weer 'n post skryf om vir julle te wys wat ek in gedagte het.  Iets rustic.

Enige idees??
Enige raad sal welkom wees :)

Dankie by voorbaat

Groete
RC
xxx  

Donderdag 27 Oktober 2016

Baba Mobile - pienk maan en sterre

Pienk Maan en Sterre Mobile

Ag, hierdie enetjie het net so mooi gekom en sal perfek wees vir 'n baba-dogtertjie se kamer :)


Beskrywing:  Eenvoudige mobile om bo baba se wiegie te hang.

Materiaal:  Vorms is van filt en met katoen hekelgare aanmekaar gehang.


Kleur:  Grys maan, pienk en pers sterre en wit wolkie.

Mates:  Hang 45cm van bopunt van maan tot onderste sterretjie.  Boonste toutjie 45cm lank en kan geknoop word om korter te wees.



Hierdie mobile'tjies is baie bevredigend om te maak en as mens hul ophang gee hul sommer dadelik 'n rustige atmosveer :)

Ek het nog twee baie oulike idees op die net gekry wat ek beslis volgende gaan probeer :)

Sien julle weer!!

Groete
RC
xxx  

Saterdag 22 Oktober 2016

Erdwurmplaas - doen dit self

Hoe om jou eie Wurmplaas te begin

Ek het maar besluit om 'n nuwe blad vir hierdie een te begin, want dit val nie vir my so lekker onder die "tutoriaal' katogorie nie ;)

Dit voel vir my altyd net so verkeerd om die skille en ander kombuis afval in die vullisdrom te gooi as ek weet dat ek die lekkerste kompos vir my tuin daarmee kan maak!!
Aan die ander kant het ek 'n baie snoep klein worshond wat 'n lus het vir alles wat vrot is en worshond-magies laat pyn.  So 'n eenvoudige hoop in die hoekie van die tuin is uit.  Ma + Pa moet 'n ander plan beraam.  So moet dit elkgeval in een of ander vorm van 'n kas of houer geplaas word.  Van daar die idee om die erdwurms by te sit.  Hul verg wel 'n bietjie meer beplanning as 'n ou gewone komposhoop, maar hul moet die proses beslis 'n bietjie aanhelp, want soos meeste mense wil ek ook sommer dadelik weer die kompos in die tuin kan gebruik!!  (Okey, die wurmpies is ook nie soooo vinnig nie, maar dit moet darm help.  Ek sal later weer laat weet wanneer ek die eerste swart-goud kon oes)
...en!!  Nou is daardie harde werk om die hoop elke week te draai ook iets van die verlede, daar is mos nou klomp klein helpertjies wat dit vir mens doen!! :)

Daar is natuurlik baie maniere om 'n erdwurmplaas te bou, maar ek het meestal herwinde materiale gebruik wat ek bymekaar gemaak het, so dit lyk nou nie heeltemal so fancy  soos van die prentjies op die net en in tuinboeke nie, maar dit dien dieselfde doel!

Hier is wat ek gedoen het:

Benodighede


1.  'n Geskikte kas.  Dit kan 'n plastiek kas wees waarin jy gaatjies geboor het of iets soortgelyk.  Ek het 'n ou houtkrat gebruik.
2.  Skadunet om onderin te sit om te verhoed dat jou wurms ontsnap.
3.  Ou koerante, karton en/of droe blare - die blare en karton kan jy gebruik vir die wurms se beddegoed, maar die koerant is nodig om bo oor te sit en kan ook gebruik word vir beddegoed (nog iets wat ek weier om  in die vullisdrom gooi, nou kan ek dit sommer in my eie tuin herwin!)
4.   Sterk stuk plastiek om onder in my houtkrat te sit (as jy 'n plastiek krat gebruik sal dit nie nodig wees nie)
5.  Kombuisafval - let daarop dat jy net groente en vrugte vir jou wurms kan voer, bene, vleis, enige vet of olie sal nie werk nie.
6.  'n Bakkie wat onder jou kas sal inpas om al die juices te vang, dit kan gebruik word as 'n aanvulling vir pot- en tuinplante.
 7.  Groterige klippe/gruis om dreinering in jou plaas te verseker.
8.  'n Bietjie tuingrond vir die wurms om in te bly.
9.  en die WURMS!!!  Myne is sommer binne die tuingrond, want ons het hulle sommer uit skoonpa se groentetuin uitgegrawe.  Dis blykbaar nou nie die regte ding om te doen nie, want mens het eintlik spesiale wurms nodig wat in die kompos kan werk, maar ek sal julle laat weet hoe hulle werk ;)
10.  en 'n deksel vir jou wurmplaas.  Ek het so bietjie hiervan vergeet en moes toe inderhaas 'n paar dae later 'n plan maak toe dit begin reen!!  Ons wil nie he die outjies moet verdrink of uitdroog nie!!

 Noudat ons al die benodighede bymekaar het kan ons begin.
Soek eerstens 'n lekker skadukolletjie in jou tuin waar die kas geen direkte sonlig sal kry nie.  Hetsy dit onder 'n boom/stuik, op die stoep of selfs in die motorhuis moet wees.  Myne is teen die muur onder 'n struik en die huis keer ook van die son in die oggend.

So maak jy:


Stap 1
Sit die plastjiek onderin jou hout kas.
(As jy 'n plastiek krat gebruik kan jy die stap uitlaat) 


Stap 2
Sny een of twee gaatjies in die plastiek waar jou kas se laagste punt is, sodat die wurm-sappe hier kan uitloop vir jou om op te vang.


Stap 3
Sprei jou gruis egalig bo-op die plastiek uit.


Stap 4
Sit die stuk skadunet oor die gruis.  Maak seker dat dit groot genoeg is om effens teen die rante op te vou.


Stap 5
Skeur die koerant of karton in repies - jy kan altyd 'n helper aanstel om hiermee te help :)
Let daarop dat dit nie van daardie blink advertensie blaaie of papbokse met die gladde buitekant moet wees nie.


Stap 6
Nou kan jy die beddegoed vir jou wurms begin rankskik.  Sit 'n redelike dik laag van die geskeurde karton/papier onderin jou kas.  Jy kan ook droe blade uit jou tuin gebruik.


Dis altyd goed om 'n tweede opini te kry...


Stap 7
Nou vir die effense onaangename deel (ek het, met my oorvloedige entosiasme vir die projek, so bietjie lank voor die tyd begin om die skille bymekaar te maak).  Sit die kompos in een hoek van jou kas en bedek dit effens met van die papier.


Stap 8
Die beste deel!!  Sit jou wurms en tuingrond versigtig bo-op die kompos.


Ek kon van die wurms darm sien voordat hul almal weer vinnig in die grond verdwyn het :)


Ek het ook vir hul 'n bietjie mis in die ander hoek gesit, maar dit is nie noodsaaklik nie.  Let wel, dat ek dit in die hoek weg van die wurms gesit het, want dit kan geneig wees om hul te brand, so nou kan hul self besluit of hul daar wil gaan rondkruip.  Mis help altyd net die kompos proses bietjie aan.


Stap 9
Maak die grond bietjie nat.  Jy wil dit nie deurweek sodat dit onder begin uitloop nie, net lekker klam.  Erdwurms hou mos van klam, koel omstandighede.  Dink hoe kruip hul uit op die sypaadjies en op jou stoep na 'n ordentlike bui reen die grond deurweek het.  Dis nie wat ons wil he nie!!


Stap 10
Bedek nou al die grond met 'n laag koerantpapier.  Rol dan velle koerantpapier op om die rante te seel.

Kyk hoe teleurgesteld is die Sosage nou omdat hy nie meer by al daai lekker vrot kompos kan uitkom nie hehe




Stap 11
Sit jou bakkie onder die gaatjie wat jy in die plastiek gesny het.  Ek moes 'n klip onder die ander kant sit om seker te maak dat die kas skuins genoeg is om die sappe in die bakkie te laat loop.  Dit vat nogal 'n hele ruk vir hul om so hard te werk dat daar sappe is wat uitloop.

Stap 12
Onthou die deksel!!  Dit sal keer dat jou ertwurmplaas te nat reen of aan die ander kant dalk uitdroog.  As jou deksel baie styf pas sal jy 'n paar gaatjies aan die kant van jou krat moet boor vir ventilasie.

Hoe om vir jou Wurms te Sorg en Geniet

* Ek voer my wurms so een keer 'n week (op hierdie manier raak die skille darem nie so grillerig in my emmertjie nie!).  Jy kan jou wurms selfs elke twee weke voer.
'n Erdwurm kan elke dag sy eie gewig eet.  So as jy 100g wurms ingesit het moet jy sorg dat jy elke week tenminste 700g kos vir hul insit.
 Erdwurms teel ook net aan na gelang van die hoeveelheid kos en spasie wat hulle het, so jy kan hopelik geleidelik meer kos vir jou wurms gee soos hul vermeerder.
* Hou die grond klam.  Spuit dit nat as die vog van die kombuisafval nie voldoende is nie.
 * As jou erdwurmplaas effens stink is dit omdat daar bietjie te veel kos vir jou hoeveelheid wurms is.  Sit 'n goeie laag papier of droe blare bo-oor en 'n bietjie tuingrond bo-oor die vars skille sal ook help.
* Wanneer jy dink dat jou wurms genoeg tyd gehad het (na 'n hele paar weke, want hul vat maar 'n rukkie om oor die skok van hul nuwe tuiste te kom) om lekker kompos vir jou te maak en jy wil dit graag oes.  Gaan so tewerk:  Sit vir hulle vars kos in 'n hoekie weg van waar jy hul voorheen gevoer het en wag 'n paar dae.  Die wurms sal na die nuwe kos toe trek en dan kan jy die kompos uithaal.  Daar sal sekerlik 'n paar agterosse in die kompos wees, maar ek twyfel of jou tuin daaroor sal kla ;) hehe 
Ek dink hierdie is 'n ideale tyd om die "skoon" hoekie weer voor te berei met vars papier/blare en 'n bietjie tuingrond.
(Ek sal jul laat weet hoe my eerste kompos-oes gegaan het - ek gee my wurmpies maar eers nog kans om te werk, maar ek is al vrek nuuskierig om te sien hoe hul vorder met die eerste kos wat ek ingesit het!!!)
* En moenie van die wurm-tee vergeet nie! Hulle se dis 'n wonderkuur vir siek plante en 'n fantastiese aanvulling.
Verdun dit so: 1 deel wurmtee tot 10 dele water en dien direk op die grond toe.  Ek dink net nie dat jy dit op jou plante se blare moet laat kom nie.  Gebruik een keer 'n week, of soos nodig

Hoop hierdie DDS sal nog 'n paar mense inspireer om 'n wurmplaas te begin en so ons planeet en omgewing te help.  Dink aan al daardie afval wat nou nie na die klaar oorvol asgate toe gaan nie, maar liewer weer vir mooi blomme en lekker groente in jou tuin sal sorg.  En raai wat, dit het my R0 gekos om hierdie erdwurmplaas te begin!!

Lekker tuinmaak!!

Groete
RC
xxx 

Donderdag 20 Oktober 2016

Baba Mobile - Maan en Sterre

Blou Maan en Sterre Mobile - R175

Ek het hom toe sommer vinnig klaar gekry!  En dis so pragtag, ek sal beslis 'n pienk en pers enetjie ook moet maak :)


Beskrywing:  Baba mobile van maan en sterre om bo baba se wiegie te hang.

 Materiaal:  Vorms - filt met sintetiese stopsel gestop
Toutjies - katoen hekel gare



Kleur:  Geel maan met blou en grys sterre en 'n wit wolkie

Mates:  Hang 47cm van maan tot onderste sterretjie, boonste toutjie is 47cm lank en kan geknoop word om korter te wees.



Gaan na my Hello Pretty Winkel om hierdie produk te koop

my baba het dit ook baie interessant gevind

wonder net wat hy dink hy daarmee kan doen??
 



















Groete
RC
xxx