Translate

Dinsdag 30 Mei 2017

Naaldboekies

Naaldboekies vir Moedersdag

En?
Het julle toe reg geraai?


Dit was 'n spesiale naald boekie wat ek vir elk van die moeders in my lewe gemaak het.  Hulle almal is baie lief vir die een of ander vorm van naaldwerk.  Ouma borduur graag, skoonma hou van klere maak en my ma is lief vir dol-las-werk (waar anders dink julle het ek vandaan gekom??? hehe)


Ek wou vir hulle iets prakties gee en natuurlik iets wat ek self gemaak het en lekker kon personolize.  Toe ek hierdie boekies op Amy van The Nana Company se blog sien het ek dadelik geweet dat dit presies is wat ek vir hulle wil maak!
Julle kan gerus 'n draai op haar blog maak.  Dis vol inspirerende goedjies en die oulikste tutoriale.




Dink julle nie dis die ideale en prettigste manier om jou naalde (wat so malkik tussen jou spelde kan verdwyn) te bere nie?  Veral as jy 'n groot verskeidenheid naalde het om te organiseer.   Daar is 4 filt bladjies in die boekie, waarvan die middelste 2 bietjie opgedollie is.





Nou moet ek nog net vir myself enetjie maak :)
Ek het hoeka lus om te leer borduur en dan sal hierdie boekie beslis handig te pas kom!!



Ek gaan ook 'n paar van hierdie boekies maak om te verkoop, so hou julle oȅ oop :)


Groete
RC
xxx

Woensdag 24 Mei 2017

Worshond Jassie - VERKOOP

Grys en Blou Worshond Jassie - R90

 Na aanleiding van die gewildheid van my vorige post oor die hondejassies wat ek gemaak het, het ek geweet dat ek beslis hierdie winter nog 'n paar jassies sal moet maak om op Hello Pretty te sit :)

Ek het besluit om te begin met jassies wat vir worshonde pas, want dit is die modelle wat ek het om mee te werk ;)
Ek sal stelselmatig ook ander groottes maak, as daar genoeg belangstelling is.
Ek sal ook weer jassies op bestelling maak met die honde se mates, want dit was laaskeer darem suksesvol.  Ek moet net eers weer uitvind waar die materiaalwinkel is!!


Kyk net hoe mooi!!
Die jassie pas vir my so perfek en die materiaal vou so lekker om die lyfie.


Ek het die grys gekwilte materiaal spesiaal gekoop vir die projek.  Dit lyk vir my so stylvol ;)
Ek het die binnekant met sagte baba blou flennie gevoer en met bypassende blou skuinsstrook omgeboor.  Die jassie maak met dubbel klitsgras voor by die bors en onder die magie vas.  So dit is nie nodig vir die hondjie om elke keer gerek en gestrek te word wanneer die jassie aan en uit getrek word nie.  Dit is my gunsteling deel van hierdie ontwerp.
Hierdie jassie pas ook vir seuntjie-hondjies (as julle weet wat ek bedoel *knipoog*)

Ek gaan ook nog 'n pienk - en 'n pers jassie maak met dieselfde grys.
Ek sal die modelle net bietjie meer moet betaal, want ons het nou nie 'n dogtertjie-model nie ;)

Die jassies is op my Hello Pretty Winkel beskikbaar @ R90 elk.


Die jassies kan ook bietjie gepersonalize word deur 'n filt letter in een van die agterste hoeke aan te bring teen 'n ekstra R10.

 Vir meer inligting kontak my by rchandgemaak@gmail.com

Geniet die res van die herfs weer!!
Die worshonde het omtrent pret met al die blare 

Groete
RC
xxx

Saterdag 20 Mei 2017

PlaasDiere Stilboekie - VERKOOP

Diere Stilboekie 2: Plaas Diere - VERKOOP


TA DA!!!
Julle het seker nie gedink dat julle so gou weer van my sal hoor nie neh?? :P
Dit voel of ek nogal op dreef is met die projekte, maar eintlik was die boekie baie naby aan klaar voor ons begin trek het en ek moes hom basies net aanmekaar sit ;)

Ek het die boekie op bestelling gemaak vir dieselfde tannie wat die ander diere stilboekie by my gekoop het.
Sy sȇ dat daardie dogtertjie so lief is vir die boekie en dat hy oral saam moet gaan - dit maak my hart sommer warm om dit te hoor!!
Die bestelling was vir 'n soortgelyke boekie en ek het toe op 'n plaas tema besluit, omdat dit hierdie keer vir 'n seuntjie bedoel is :)
En ek wou so graag 'n trekker in die boekie sit.
Ek is heel in my skik met hom, want die agterste wiel kan draai!!! :D
Die boekie is weer bedoel vir 'n klein baba, so ek het gesorg dat daar geen los deeltjies is nie en dat alles stewig vasgewerk is.




Ek het weer verskillende materiaal vir die agtergrond gebruik om kleur en tekstuur aan die boekie te gee.
Natuurlik moet daar 'n windpomp ook op die plaas wees.
Die hoender hennetjie spog met 3 spierwit eiers.


Die skapie is lekker sag en wollerig.  Hy is meeste mense se gunsteling.


Blommie die koei kou aan 'n blommetjie.
Ek hoop dat hulle tevrede sal wees met hoe die boekie uitgekom het :)
Nou sal ek maar moet begin met die volgende een!!
Groete
RC
xxx

Saterdag 13 Mei 2017

Moedersdag 2017

Moedersdag Geskenkies

Hallo almal!
Ek kan nie glo dat ek so lanklaas 'n post geplaas het nie.  Ek vra onverskoning.
Aan die ander kant het ek eintlik besluit om slegs goeie kwaliteit posts te plaas wanneer ek regtig ietsie het om met julle te deel, in teenstelling daarmee dat ek 3maal 'n week probeer blog het en dan so hard moes dink aan goed om vir julle te vertel.  Dit haal die genot bietjie uit die blog-ding uit en ek wil net vir julle die beste kwaliteit leesstof, foto's en inspirasie hier op RC Handgemaak bied :)

Daar het so baie dinge gebeur hierdie laaste paar maande vandat ek laas met julle gesels het dat ek skaars kans gehad het om 'n stekie naaldwerk te doen!
Maar my masjien is weer uitgepak en afgestof en ek moes net agter hom inskuif en ietsie kreatief maak, al lyk dit nog of 'n orkaan my nuwe naaldwerk nessie getref het!!! hehehe


Wat dink julle?
Heel snoesig, neh.
As my blog nou nie klaar 'n naam gehad het nie sou ek dit beslis "Die Pienk Kamer" genoem het
thiehiehie
Dis nou my voor foto, ek sal nog bietjie organiseer en dan wys ek weer vir julle :)

Waar was ek nou eintlik??
Oja!!  Moedersdag!! ♡

Ek wou graag vir al die moeders in my lewe ietsie spesiaal maak hierdie jaar, maar soos altyd het ek dit weer bietjie laat gelos (onthou dat die masjien diep weggebȇre was!) en sal ek nie die geskenkies voor môre by hul kan kry nie.  Omdat ons so ver van almal af is.

Tog wou ek dit graag met julle deel.  Daar is iets besonders daaraan om my handgemaakte goedjies met julle te deel en ek mis my blog ongelooflik baie.  Ek kan mos nie die kans laat verbygaan nie!
Maar ek wil ook nou nie die verrassing vir die Moeders bederf nie.....

...so ek gaan net 'n paar skelm foto'tjies wys en jul sal nooit kan raai wat dit is nie!! 
 Ek het besluit om dit vir hul te pos - wanneer laas het jy ietsie spesiaal in die pos gekry??
Dan sal ek jul later weer update wanneer hul dit gekry het :)




Wat dink julle van die creative juices? :)
Wat doen julle hierdie naweek om jul Moeders te bederf?
 'n Lekker warm ontbyt in die bed en 'n hele dag se koffie aandra terwyl sy net haar pantoffels onder die kombers kan sit en lees klink vir my na die ideale bederf vir hierdie koue weer wat ons hierdie naweek oorval :D

Ek wens alle MOEDERS 'n baie mooi moedersdag toe, vol bederfies, drukkies en soentjies en die geselskap van die mense wat vir jou lief is

Warm Groete
RC
 x❤x 

Donderdag 23 Maart 2017

My Seisoene Stilboek - Herfs

Hallo almal!!

Ons vakansie het toe so gerek en gerek dat jul seker al skoon van my vergeet het!!
Maar ek sal die kuiertjie op die plaas tog vir niks verruil nie :)

Aangesien ons nou al aan die einde van Maart-maand staan, en dit die begin van die herfs beteken, het ek besluit om die volgende blad van my Seisoene Stilboek met julle te deel.

Herfs


Hierdie is die blad wat eintlik die hele boek geȉnspireer het :)
 Ek het die oulike idee by handmadebymom gekry.  Google dit gerus, sy het die mooiste stilboeke en inspirasie op haar blog :)


Die blad is vir my so oulik uitgele.
Dit is van 'n boomstomp met 'n deurtjie in waar 'n wollerige maatjie bly.  Daar is kleurvole herfs-blare wat die deur bedek en die blad vou heel oop om die binnekant van die stomp te wys waar die eekhoring sy neute en ander kos vir die winter bere.


Op hierdie blad leer ons bietjie tel.
Daar is 1 groot pampoen,
2 sampioene en 
3 akkers 
wat die japsnoet bymekaarmaak.


 Binne die stomp is daar 'n spesiale plekkie vir elkeen.
Sommer 'n goeie oefening vir vorms en groottes ook.


 Die uniekheid van die stilboeke lȇ altyd vir my in die detail, soos hierdie bessietjies wat onder die blare versteek is.


Op daardie stadium het ek nog moed gehad om hierdie oulike motiefie in die hoek te borduur, maar borduur is nou nie een van my sterk punte of gunsteling tydverdrywe nie!!
Ek oorweeg dit sterk om een van daardie masjientjies aan te skaf waarmee mens jou eie "labels" op 'n lintjie kan druk (soos daardie wat jou ma in jou skoolklere vasgewerk het) sodat ek op daardie manier woorde en frases in my stilboeke kan aanbring ;)
hehe




Ek is seker dat hierdie blad ure se verbeelding-spel sal aanmoedig.


Aan die binnekant van die blad is daar 'n klein blare-bedjie vir ons eekhoring-vriendie om sniesig te slaap wanneer hulle klaar gespeel het :)

Fluit-fluit ons storie is eers uit.

Groete
RC
xxx 

Donderdag 16 Februarie 2017

Cuddle Kombersie met Skuinsstrook - Pienk Olifante

Pienk Olifantjie Cuddle Kombers - R 250

Met die lekker reȅnweer wat ons die afgelope ruk gehad het kan ek my amper begin verbeel dat die winter oppad is :)
Net die gedagte maak my sommer lus om kombersies te begin maak.
Ek het agter gekom dat dit een van my gunsteling items is om te maak :) Wat is nou meer prakties as 'n kombersie in die winter??  Mens kan nooit te veel daarvan hȇ nie.
(het jul opgelet dat ek geleer het waar die ȅȇ-kappietjies en deeltekens tekry is hehe)


 Die oomblik toe ek hierdie oulike materiaal gesien het moes ek dit net koop!!
Ek was eers van plan om een van my cuddle en flennie kwilte te maak, maar die winkel het geen neutrale flennie sonder patrone en toe besluit ek dat dit te bont affȇre sal afgee.  Na 'n bietjie oorweging het ek besluit dat die eenvoudige skuinsstrook randjie die snoesige materiaal die beste sal komplimenteer.  Die agterkant is so lekker ekstra sag dat mens dit elkgeval nie agter die flennie wil wegsteek nie :)





Dink julle nie dat die motiefie net te prettig is nie?!?
Dis ideaal vir 'n baba of enige dogtertjie.  Juis daarom het ek besluit om hierdie kombersie bietjie groter te maak.
Hy is 100x150cm.
Hy sal selfs 'n baie lekker kombersie vir my wees om voor die TV te gebruik wanneer ek brei.
(moenie verbaas wees as hy een van die dae nie meer op Hello Pretty beskikbaar is nie ;) 

Wat dink julle?  Sal dit nogsteeds 'n geskikte ooievaarstee gekenkie wees, of is dit dalk te groot?
Is dit dalk juis ideaal omdat die baba dit kan gebruik as sy ouer word?
Is dit iets wat jy juis vir 'n ouer kind sal koop?
 Of sal jy nog 'n groter een hier en op my Hello Pretty Winkel wil sien? 
 Ek sal graag jul mening wil hoor.
  


Gaan na my Hello Pretty Winkel om hierdie oulike kombersie te koop.

Let Wel:  Die teddiebeertjie in die foto's is slegs 'n modelletjie en hy is nie te koop nie.
 
Dis amper naweek mense!!
Ons hoop dis 'n koel een :)

Groete
RC
xxx 

Dinsdag 14 Februarie 2017

Stilboek Verpakking

Verpakking, Besigheidskaarties & Afslag Bewyse

*Hierdie post bevat affiliated links.
Uiteindelik!!
Awesome verpakking vir my stilboeke!!

  
Dink julle nie dis ideaal nie??
Dit pas soos 'n handskoen en die kleur is perfek! :)

Raai waarvoor is dit eintlik!?
Dis om jou scrapbook papier in te hou.
Hoop net dat ek dit in die vervolg ook sal kan kry.  Het dit by Westpack Lifestyle gekoop :)

Hier is 'n link vir 'n soortgelyke scrapbook papier houer: 
Papier houer op Amazon*


Kyk die oulike handvatseltjie!
Nou kan die dogtertjie sommer altyd haar stilboek in die tassie bȇre :)

Met die gesoek na idees vir verpakking op die net het ek sulke oulike idees op hierdie blog gekry 

Daar gee hulle toe die oulike idee om afslag bewyse by jou pakkies in te sit.
Wat 'n wonderlike idee :)
 Ek het dit toe dadelik gedoen, en hier is die bewysies wat ek gedruk het


So ek gaan in die toekoms 'n hele paar van hierdie bewyse uitdeel saam met verkoopte items, maar jul moet die blog dalk mooi dophou!!  ;)

En uiteindelik het ek ook die regte karton vir my besigheidskaartjies by PNA gekry (nadat ek natuurlik klaar die pienk karton as 'n laaste uitweg by die vorige winkel gekoop het, maar ek het toe darem 'n goeie doel daarvoor ook gekry)

Hier  is die andger post  wat ek oor my besigheidskaartjies en verpakking geskryf het, ding vorder darem :)

Wat dink julle?  Sal jy vir iemand 'n geskenk bewys koop?

Stuur asb vir my 'n epos by rchandgemaak@gmail.com as jul sukkel met die kommentaar knoppie.
Ek wil graag van jul hoor!!

Groete
RC
 ♡