Translate

Donderdag 09 Februarie 2017

Seasons Quiet Book

Uiteindelik!!
 Na 6 hele maande....
Skoonsus se stilboek is uiteindelik kant en klaar!!

Ek is so opgewonde om dit met julle te deel!
Geniet...


Hierdie keer is die boek vir 'n Engelse maatjie :)


Ek het weer elke seisoen se naam op die oorkantste blad geskryf en die feit dat hulle die woord selfs kan "voel" maak dit vir my nogal besonders.
Net die ander dag het ek 'n oulike praatjie op die radio gehoor wat gehandel het oor spel en toe het die arbeidsterapeut gese dat mens slim maniere moet kry sodat kinders woorde op 'n ander manier kan ervaar as om dit net te sien.


Die lenteblad is baie dieselfde as my eie Seisoene Stilboek sn.
Ek het dit bietjie eenvoudiger probeer maak, omdat ons maatjie nog baie klein is.
Ek het die los dele tot 'n minimum probeer beperk.  
Mamma kan gelukkig die blomme wegbere totdat sy bietjie ouer is :)


Die blomme het magnete in en ek het klein staal wastertjies aan die reenboog vasgewerk.
Hierdie dien as die KLEURE blad, so die idee is om die regte blom op die bypassende reenboog-streep te sit.  Die boomstomp dien as 'n oulike bȇreplek vir die blomme.


Tussen die boom se blare is daar 'n voȅlnessie met 'n kuikentjie in.
Die mamma-voȅltjie is met 'n stukkie kant vas sodat sy nie van die blad af kan vlieg nie ;)


Waar daar 'n reȅnboog is moet daar darem ook reȅn wees...

Die skoenlapper wat in die boomstomp wegkruip is ook met 'n lint vas en daar is ook 'n magneet in sy lyf om oor die blomme en reenboog te kan vladder
(so as mamma die blomme moet weg-bȇre verloor die blad darem nie al sy karakter nie)


Die somer se blad is vir my so prettig!!


 Hierdie blad is vol vat-en-voel dinge.
Die lug is van gladde satyn,
die water se sy materiaal is vir my ideaal en lyk net soos die see,
die kant wat die brander-skuim op die strand voorstel is geniaal!!
Gaan na imagineourlife.com vir die tutoriaal wat wys hoe om dit te doen.


Hierdie is die VORM blad.
So die 3 vorms:
reghoek - handoek
driehoek - ligtoring se dak
sirkel - strandbal
kan afhaal en sit dan met klapperhaar weer vas :)







Ek geniet dit altyd baie om die detail op die blad aan te bring :)


Herfs!!
Is julle nie mal oor die oulike kabouter materiaal nie? ♡





Hierdie is die TEL blad.
Ek het drie eenvoudige telletjies gemaak met:
1 groot pampoen
2 vet sampioene
en 3 akkers
wat heen en weer kan skuif.


Daar bly 'n oulike eekhoring in die boom se stam en ek is seker dat hy by al die seisoene gaan kuier ;)


Laaste maar nie die minste nie...
Winter!!!




Die prentjie lyk vir my so oulik.


Hierdie is ons blad wat bietjie leer van GROOTTES
en ons het 'n oulike sneeuman-maatjie wat ons daarmee gaan help, 
deur hom van groot na klein te bou :)


Die beer kan heen en weer skuif agter die plastiek deur die toutjies te trek.
Hy slaan wel bietjie bollemakiesie, maar ek dink net dis omdat hy so bly is dat dit uiteindelik winter is ;) hehe



Die agterblad het 'n sakkie met 'n ritssluiter, sodat al die los goedjies maklik opgeruim kan word as mamma alles haastig moet wegpak.  Ek hoop dit help om te verhoed dat die goedjies wegraak.

  
Fluit-fluit ons storie is uit!!!




Oja!!  Ons wil net vir julle verseker dat stilboeke maak, foto's neem en blog alles baie uitputtend kan raak *knipoog*
maar ons geniet ons gate uit!!! :D

Ek kan nou nie meer wag om vir Skoonsus die boek te oorhandig nie!!
Hoop sy hou baie daarvan.

Nou kan ek met die volgende een begin!!!

Groete
RC
  

Dinsdag 07 Februarie 2017

Voorsmakie...

Hier is so 2 projekte waarmee ek tans besig is...
 Ek maak solank bietjie nuuskierig ;)

Die eerste projekkie is 'n gebreide hasie.  Dis nogal 'n oulike patroontjie, alles word in die rondte gebrei en die strepies maak die outjie heel vrolik.
 Hierdie pers en blou hasie het ek 'n paar jaar terug gebrei.  Ek is seker hy is iemand se onafskeidbare maatjie ;)

Dis hoe ver ek nou al gevorder het....
Die kop is datem al klaar hehe

Wat dink jul van die kleur kombinasie?  Ek het die volgorde van die strepies bietjie verander sodat die kleure beter vloei (volgens my hehe)
Ek wil ook die arms en bene bietjie ligter stop en ietsie spesiaal met die ore doen.
Hoop hy kom oulik uit :)


Dan is ek mos nou al 'n hele ruk besig met Skoonsus se stilboek...

Ek moet nog net die voorblad klaarmaak en die boek aanmekaar sit!! 
Ek sien baie uit daarna om die boek vir julle te wys, ek is baie tevrede met hoe die blaaie uitgekom het :D


Dan wil die Handsomes net vir julle wys watse lieflike reenweer ons hier het :)
Wanneer ek foto's neem wil Dash altyd voor die kamera wees en dan snap ek hulle maar so paar keer, hulle poseer so mooi.
Ek dink hoeka daaraan om 'n paar honde jassies te maak voor die winter kom.
Wat dink julle?  Sal jy vir jou beste vriend 'n jassie koop?

Nou gaan ek vir my 'n lekker koppie tee maak en daardie stilboek klaarmaak!!

Nat Groete
RC


Saterdag 04 Februarie 2017

Vos Serp

Tenspyte daarvan dat dit so warm is, het my model darem ingestem om die serpie vir my te modelleer ;)


Ek dink hierdie is my heel gunsteling kinderserp patroontjie.  Dis so eenvoudig en die eindproduk is vir my so speels en prettig.  Ek hou daarvan om dit in sulke helder kleure te brei :) dit sal beslis enige iemand se dag opkikker.




Schnitz was beslis in sy skik om model te speel :) 
Is hy nie handsome  nie?!?!?!!?


Dash was natuurlik nie baie in sy skik daarmee dat hy nie die middelpunt van al die aandag is nie....
Toe neem ek hom maar af saam met die materiaal wat ek gister opgevou het, wou net weer vir jul wys hoe eenvoudig en netjies dit is :)





Dash wou vir julle 'n kort tutoriaal doen om te wys hoe mens dit doen, maaar hy is ongelukkig beter met die OOPvou as die OPvou van die materiaal theeheehee

Hoop jul het 'n lekker naweek!!

Groete
RC
xxx 

Dinsdag 31 Januarie 2017

Box Pouch - NIE BESKIKBAAR

Laslappie Box Pouch - R300

Daar is nou net nie 'n mooi Afrikaanse naam vir hierdie een nie, so ons hou maar by die Engelse naam ;)

Ek het julle mos so 'n hele rukkie terug bietjie nuuskierig gemaak met die foto'tjies van die gekwilte lappies....


Dit het bietjie langer gevat as wat ek wou gehad het (want ek kom net nie by my naaldwerk en blog uit nie!!  Ek is so jammer oor hoe ek julle die laaste ruk afgeskeep het)
maar hier dis die eindresultaat nou :)


Wat dink julle?  Hy het nogal heel spoggerig uitgekom :)
maar kom ek vertel vir julle 'n geheimpie.....volgende keer gaan ek beslis eerder aanstryk facing gebruik as die stywe batting, want was dit nou 'n gesukkel om daardie laaste naatjies gestik te kry!!!!
Aan die ander kant maak dit die sakkie lekker stewig.


'n Kant detail'tjie aan die een kant.


Ek is heel in my skik met die laslappie- en kwiltwerk :)


Die binnekant is uitgevoer met blou flennie.
Ek dink dit sal ideaal wees vir 'n grimeer sakkie.


Die sakkie is 20cm lank x 13cm hoog x 12cm breed

Hy sal binnekort op my Hello Pretty Winkel beskikbaar wees.

Groete
RC

Dinsdag 24 Januarie 2017

Materiaal

Sjoe!!  Die nuwejaar is so vol dinge dat ek net nie by my naaldwerk uitkom nie!!
Dalk moet een van my voornemens liewer wees om meer naaldwerk te doen ;) hehe
Ek het darem Skoonsus se stilboek se Winter-blad klaargemaak.  Dink ek moet nou werk maak daarvan om hom klaar te kry, sodat ek dit vir julle kan wys :)

Eerder as om jul droȅbek te laat sit gaan ek vir jul die mooi materiaal wys wat ek die vakansie gekoop het :)
Die winkel was eintlik bietjie uitverkoop en daar was nie so groot verskeidenheid om van te kies nie, ek hoop dat hul binnekort weer aankope sal doen sodat ek my stash  bietjie ordentlik kan aanvul.
Nietemin het ek hierdie 2 pragtage stukkies materiaal uitgesnuffel...


Ek is baie lief vir hierdie katoen, kwilt materiaal en het besluit om te spaar en liewer 'n bietjie meer te betaal vir die goeie kwaliteit.  Daar is altyd die mooiste motiewe en patrone en ek moet altyd 'n paar rolle weer terugsit om by my begroting te hou.




 Hierdie blou is ideaal vir 'n stilboek blad en sal ook al te fraai lyk in die kombuis vir 'n skinkbord lappie of so ietsie.


Hierdie soort neutrale kleure is altyd 'n staatmaker.  Dit is dalk nie die eerste kleur wat mens kies in die winkel nie, maar om een of ander rede is ek baie geneig om dit eerste uit die kas te haal wanneer ek besig raak met 'n projek.  Hierdie motiewe sal baie oulik werk met 'n sakkie of beursie.

Hoop julle het dit geniet.

Waar koop jul graag materiaal?

Groete
RC
 

Dinsdag 17 Januarie 2017

Nuwejaar 2017

Nouja, Kersfees is lankal verby en ek hoop dat julle almal goed uitgerus het hierdie vakansie sodat julle hierdie nuwe jaar by die horings kan pak :)

 Wat doen julle om vir die nuwejaar voor te berei?


Ek het darem al in die oujaar my nuwe dagboek gekoop.

*  Eerstens moet mens al die belangrike datums (moeders- en vadersdag) en verjaarsdae oorskryf (ek het een van daardie spesiale kalendertjies vir die verjaarsdae, so ek skryf dit nie in my dagboek nie)
*  Dan enige belangrike en roetine afsprake soos dokters- en tandaarts afsprake.
 *  Dan die diere se dinge - soos jaarlikse inentings en ontwurming
*  Volgende is die tuin se dinge - kyk in laasjaar se dagboek wat vir jou gewerk het en pas daarby aan (jy het tog sekerlik onthou om te skryf wanneer jy wortels gesaai het en of dit 'n suksesvolle oes was?) note to self: onthou dit hierdie jaar!!!  hehe
* en moenie vergeet om deur jou ou dagboek te blaai en belangrike telefoonnommers en eposadresse wat jy haastig neergepen het oor te skryf nie!!
*  ek maak ook altyd 'n lysie van al die goedjies wat ek graag wil maak en dan skryf ek dit elke maand oor om te sien hoe ek vorder om nie ietsie belangrik soos 'n verjaarsdag geskenkie te vergeet nie.

Wat skryf julle als so aan die begin van die jaar in jul dagboeke?


 Die gevreesde NUWEJAARS VOORNEMENS....

Ag ek is nie juis groot op hierdie lys nie, want mens kan enige tyd begin met 'n paar nuwe voornemens, soos om gesonder te wees en dan moet mens nie wag vir die nuwejaar om daarmee te begin nie!!

Al wat ek in hierdie Januarie-maand nog wil doen is om vir my 'n winkel op Hello Pretty  oop te maak :D ek is heel opgewonde daaroor!!

VOORSPOEDIGE 2017

Groete
RC
xxx  

Saterdag 14 Januarie 2017

Kersfees - 2016

Ja ek weet.  Kersfees is lankal verby, 
maar ons kan die festive feeling mos bietjie oordra tot in die nuwe jaar ;)

Ek wil sommer net vir julle vertel van ons nuwe tradisie'tjie :)

Ons het besluit om elke jaar vir Kersfees 'n inheemse boompie te koop, hom te versier vir kersfees en dan in die nuwejaar uit te plant :D

Op ons soeke na die perfekte boompie koop ons toe op die einde van die dag 3 boompies wat op special was.  Noodeloos om te sȇ dat dit nou nie die 3 mooiste boompies in die kwekery was nie, maar ons het hul so half jammer gekry en ons oor hulle ontferm ;)

So is ons huistoe met ons 2 karee- en een geelhout boompies.
Ek het die sterkste boompie uitgekies, wat toe 'n karee was, en hom versier vir die geleentheid.
Die ander 2 het ons solank met baie liefde gesnoei en in groter sakke geplant sodat hul lekker sterk kan wees wanneer ons hulle wil uitplant.


Ons nederige boompie was omtrent die centre of attention.  Ek dink dit het hom sommer 'n hupstoot gegee ❤

Hoop julle het almal 'n baie geseȅnde kersfees gehad!
Laat daardie welwillendheid julle deur die hele jaar bybly 

Groete
RC
xxx
❤